021 887 3044
admin@bloemhofschool.co.za

7 Jun 2018

o.14’s deur na Topskole-finaal

Jong Bloemhoffers onoorwonne in Topskole-uitspeelrondes en op pad finale toe

Al is hulle skaars ses maande in Bloemhof, hou die o.14A’s die skool se naam baie hoog op die Wes-Kaap se netbalbane.  Hulle het vanjaar onoorwonne deurgedring na die finaal van die Topskole Nasionale Netbalkampioenskappe vir Sekondêre Skole nadat hulle die beste netbalskole in die Wes-Kaap se o.14-spanne geklop het.

“Om te wen, is nie iets wat jy alleen kan doen nie,” meen Tilla-Marié Schreuder (graad 8), die span se kaptein.  “Ons het baie goed as ’n span saamgespeel.”

Dit word beaam deur hul afrigter, Nicolene van der Vyver, wat self ’n oudleerder en voormalige kaptein van die eerste netbalspan was.  Sy was in 2016 in matriek.  “Dis ’n heerlike span om mee te werk.  Behalwe dat hulle baie talentvol is, speel hulle met entoesiasme en selfvertroue.”

Ten spyte van triestige weer die afgelope naweek in Riversdal, waar die provinsiale uitspeelrondes plaagevind het, kon hulle skoonskip van hul kompetisie maak.  Hulle wen die Hoërskool Punt van Mosselbaai 20:6, Paarl Gimnasium 12:5 en die Hoërskool De Kuilen 20:7 om eerste in hul groep te eindig.  In die halfeindstryd klop hulle die Hoërskool Vredendal 20:7 en meet in die finaal kragte teen die Hoërskool Stellenberg, wat met 17:11 ook teen die Bloemhoffers die knie moet buig.

In Augustus sal hierdie span strawwe kompetisie by die nasionale finale in Boksburg in die gesig staar, maar hulle is reg vir die uitdaging.

“Ek dink dit sal ons vaardighede ontwikkel sodat ons as ’n span kan groei en in die toekoms beter en beter netbal kan speel,” sê Tilla-Marié.

 

Die o.14’s is (agter van links na regs) Tilla-Marié Schreuder (kaptein), Tiani Fourie, Carla Janse van Rensburg, Anja Hartogh, Kyanti Greyling, Lara Steenkamp, Lize de Villiers, Lara Steyn.  Voor is me. Almaré van der Vyver (spanbestuurder), Helena Swart en Nicolene van der Vyver (afrigter).

 

Twee ander Bloemhofspanne het vanjaar na die toernooi se provinsiale kragmetings deurgedring. Die o.16A’s eindig ongelukkig nie onder die top twee spanne in hul groep nie en dring nie tot die dag se uitspeelwedstryde deur nie. Die o.15A’s wen drie van hul vier groepswedstryde, maar verloor in die halfeindronde 9:14 teen die Hoërskool Durbanville.  Hulle wen die laaste wedstryd teen die Hoërskool Stellenberg (20:11) en eindig derde in die provinsie – ongelukkig een posisie weg van ‘n plek in die nasionale finale.

Vanjaar het die o.17A’s nie aan Topskole deelgeneem nie, terwyl die o.18A’s in die streeksuitdunne hul rieme teen alle verwagtinge teen die HMS La Rochelle styfgeloop en uitgeval.

Lewer kommentaar