Debatspan styg uit tydens Dink of Sink

Bloemhof, PRG deur na eindronde van gewilde debatstryd

Angela Schindehütte, Tia Bruwer en Arlene Janse van Rensburg, drie graad 9-debatteerders, is Vrydag, 18 Mei 2018 as die wenners onder die juniorspanne by die jaarlikse Dink of Sink-debatskompetisie gekroon.  Hierdie stryd word jaarliks deur die Hoërskool D.F. Malan in Bellville aangebied en deur AfriForum en Die Burger ondersteun.

Wat Dink of Sink anders as ander debatskompetisies maak, is die feit dat spanne nie vooraf hul onderwerpe kry nie en dus op hul voete moet dink en argumente sinvol moet formuleer én voer.  Angela, Tia en Arlene kon juis hierin slaag en het tot die finaal deurgedring waar hulle teen die Hoërskool Stellenbosch te staan gekom het.  Hier was die onderwerp “Liefdesverhoudings oor ‘n groot afstand kan nie werk nie” en die Bloemhoffers moes as die leidende span hierdie stelling verdedig.

Bloemhof se seniorspan – Andri Malan, Annerine Strauss en Lize Burger – moes ongelukkig die knie voor Paul Roos Gimnasium en D.F. Malan buig, wat na die seniors se finaal deurgedring het.  Hier was die onderwerp ” Beloning vir die verlede moet voorrang geniet bo meriete in die hede” met ons broerskool wat as opponerende span die debat gewen het.

Hierdie twee spanne sal op 20 Oktober vanjaar aan die nasionale eindstryd in Pretoria deelneem.

Angela Schindehütte, Tia Bruwer en Arlene Janse van Rensburg saam met me. René Badenhorst nadat hulle as die wenners van die juniorafdeling gekroon is.  

In ander debatsnuus het 11 van Bloemhof se 14 debatspanne tot die semi-finale van die ATKV-debatskompetisie deurgedring – ‘n groot prestasie en ‘n eerste vir die skool.  Ses junior- en vyf seniorspanne – ’n totaal van 28 leerders – debatteer Saterdag, 26 Mei 2018  by die Hugenote Hoërskool in Wellington.  Die juniors se onderwerp behels suikerbelasting terwyl die seniors oor die betrokkenheid van die burgerlike samelewing in ’n verswakte staat gaan stry.  Juniorspanne bestaan uit drie leerders, terwyl seniorspanne twee-twee deelneem.

Bloemhof se debatteerders wat tot die ATKV se semi-finale deurgedring het, glimlag vir ‘n foto.

Die Bloemhofspanne wat deurgedring het, is as volg:

SENIORS

  • Janecke Appelgryn & Beatri Cloete
  • Marianne Strauss & Louise Bührmann
  • Mia Janse van Rensburg & Petri Hancke
  • Annerine Strauss & Andri Malan
  • Anelia Kleynhans & Danielle Louw

JUNIORS

  • Andrea Visser, Melissa Ducharme & Mienja Strauss
  • Misha Potgieter, Natalie Visser & Simoné Steyn
  • Anaïs Herman, Mareli Botha & Mia Ham
  • Angela Schindehütte, Tia Bruwer & Arlene Janse van Rensburg
  • Kara Ekkerd, Anna-Mart Louw & Sharné Kruger
  • Gabi Sperling, Kristin Rossouw & Lisa Dudley

Baie sterkte aan hierdie leerders!

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos