Die Bloemhof Investec Eerste Hokkiespan het op 20 Mei 2018 hul titel as SPAR Challege-kampioene suksesvol verdedig nadat hulle vir Rustenburg Girls’ High met 1:0 geklop het.

Dit was vir die spelers én toeskouers ’n frustreurende oggend op en om die astro van Hoërskool Bellville, waar die agt spanne wat tot die finale uitspeelronde deurgedring het, gesukkel het om doele aan te teken.

In beide hul eerste twee groepswedstryde – eers teen Wynberg Girls’ High en daarna teen Hoërskool Bellville – weerspeel die gelykoptellings van nul elk nie die ware wedstryd nie, want die Bloemhoffers oorheers en is feitlik altyd op die aanval.

Dis eers in die laaste groepswedstryd teen die Hoër Meisieskool Paarl dat Mieke Basson vir Bloemhof se eerste doel van die dag sorg – genoeg om die Bloemhoffers eerste in Groep B te laat eindig en na die finaal teen Rustenburg te laat deurdring.

Ook in die finaal het die doele nie maklik gekom nie, al speel die Bloemhoffers vir die grootste deel van die wedstryd in Rustenburg se verdedigende helfte.  Ten spyte hiervan het die opposisie vir twee goeie aanvalle gesorg, maar Mishka Ellis, die Bloemhofdoelwagter en onderkaptein, verdedig in albei gevalle die doelhok suksesvol.

Pragtige doelpogings deur Elsabé Maree, Eljah de Wet en Carli Claassen is eers regs by die doelhok verby en daarna deur die Rustenburg-doelwagter gekeer, maar uiteindelik ontvang Mieke Basson die bal wat oor ’n ver afstand aangegee word sodat sy sonder veel moeite tot by die doelhok kon hardloop.  Met die Rustenburg-verdedigers wat op haar toesak, stuur sy die bal vinnig aan Marli Ehlers wat daarin slaag om die bal links van die doelwagter verby tot in die hok te dryf – die wendoel vir Bloemhof.

Rustenburg Girls’ High is vanjaar die wenners van silwermedaljes en Rhenish Girls’ High het die brons ontvang.  Die SPAR Challenge-trofee is egter vir nog ’n jaar Bloemhof s’n.

Eljah de Wet omhels vir Marli Ehlers wat die wendoel aangeteken het. 

 

Mieke Basson, wat as Bloemhof se speler van die toernooi aangewys is, ontvang haar goue medalje.  

 

Die Bloemhof Investec Eerste Hokkiespan – wéér SPAR Challenge-kampioene!