021 887 3044
admin@bloemhofschool.co.za

10 Mei 2018

Mej. Eko-Bloemhof 2018 gekroon

TERRA hou gewilde eko-modeparade

Marisca Engelbrecht en Nichola Viviers, albei graad 10-leerders, skrik nie vir ‘n naald en gare óf gemors nie.  As deel van Bloemhof se eko-week (23-26 April) het hulle aan TERRA, ons eko-vereniging, se Mej. Eko-Bloemhof deelgeneem en is as die aand se wenners gekroon.

“Dit was vir ons pret om iets te skep wat aan hoogmode herinner, maar heeltemal uit herwonne voorwerpe bestaan,” sê Nichola, wat die ontwerpershoed gedra het.  Mariska het die uitrusting modelleer.  “Alles wat ons gebruik het, beland tipies op ’n ashoop.”

Hulle het stukkende plastiekhoepels as inspirasie gebruik en daarvolgens op die kleurskema van geel en groen besluit.  Die uitrusting het uit groen plastieksakke bestaan met die hoepels wat om die middellyf en bene gehang het en aan ’n beld van katkosbokse vasgemaak is.

“Om die rok af te rond, het ons oorbelle van koeldrankblikkies se oopmaakringetjies gemaak en ’n halsnoer van opgerolde koerantpapier,” verduidelik Marisca.

Nicola Viviers (in swart met die mikrofoon) verduidelik hoe hul te werk gegaan het om die uitrusting te maak wat deur Marisca Engelbrecht gedra word.

 

Die naaswenners was Marietjie de Waal (ontwerper) en Dominique Visagé (model) se koffie-geïnspireerde romp wat uit gebruikte wegneemkoppies gemaak is, terwyl Anine van der Berg (gr. 9) derde geëindig het.

Ander ontwerpe wat uitgestaan het, was Rohannette Janse van Vuuren (gr. 10) se e-afval bostuk wat uit die toetse van ou sleutelborde gemaak is en deur haar vriendin Frances van Rooyen (ook gr. 10) gedra is.

Marietjie de Waal en Dominique Visagé is as die naaswenners aangekondig.

Anine van der Berg het derde geëindig

Rohannette Janse van Vuuren het ‘n bo-stuk uit rekenaartoetse gemaak wat deur Frances van Rooyen gedra is

Die modeparade se kriteria het vereis dat ontwerpe nie net uit herwinbare materiaal gemaak moet word nie, maar aktief van herwinning getuig.  Nog foto’s van die aand kan hier gevind word.

 

Lewer kommentaar