29 Bloemhoffers en 10 personeellede het vroegoggend op 27 April in Oos-Londen gearriveer vir die 19de All Girls’ Festival.  Dit is die tweede jaar dat Bloemhof aan hierdie sport- en kultuurfees deelneem; in 2017 het die eerste netbal- en hokkiespanne onderskeidelik vierde en vyfde geëindig. Vanjaar is ’n tennisspan ook ingesluit.

Tydens die openingseremonie is die leerders van 18 ander openbare meisieskole van regoor Suid-Afrika by Clarendon High School for Girls welkom geheet en die eerste wedstryde is vanaf 07:30 op Saterdag, 28 April gespeel.  Op Maandag, 30 April het al drie spanne om podiumplekke meegeding.  Die hokkiespan verloor ongelukkig hul laaste wedstryd teen Rhenish en eindig in die vierde plek, en ook die netbalspan buig die knie teen Oranje in die finaal om ’n tweede plek in te palm.  Die tennisspan is onoorwonne en eindig eerste uit die 19 skole.


HOKKIE

Die Bloemhof Investec Eerste Hokkiespan slaag daarin om hul groepswedstryde oortuigend te wen.  Durban Girls’ High word 3:0 geklop, HMS La Rochelle 4:1 en ’n sterk span van Eunice High School for Girls 2:1.  In die kwarteindronde meet hulle kragte teen Pretoria Girls’ High en wen 3:1, maar ’n gedugte span van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje wen die semi-finaal 1:2 sodat die Bloemhoffers hul buurskool, Rhenish Girls’ High, in die uitspeelwedstryd vir derde/vierde plek moet aanpak.  Bloemhof is egter die enigste span wat tydens die toernooi ’n enkele doel teen Oranje kon aanteken.

In die laaste wedstryd kry Rhenish dit reg om binne die eerste paar minute ’n doel te skiet, iets wat gou daarna weer gebeur.  Die wedstryd word oorwegend in Bloemhof se verdedigende helfte gespeel en pogings deur Bloemhof om veld te wen, word keer op keer deur Rhenish se knap verdediging afgeweer.

’n Pragtige doelpoging waar Mieke Basson (gr. 11, foto hier onder) deurbreek en vir Marli Ehlers (gr. 12) aangee, misluk toe die bal net-net te hoog oor die doelhok seil. Die finale telling is 0:2 in Rhenish se guns en die Bloemhoffers eindig in die vierde plek op die fees se hokkieranglys.

Mieke Basson tydens All Girls’ 2018

Die hokkie-uitslae is as volg:


NETBAL

Bloemhof se eerste netbalspan vaar baie goed in die uitspeelwedstryde en verloor slegs teen Oranje met ’n telling van 15:20.  Aan die einde van die eerste kwart in dié wedstryd loop die Oranjeniete met drie doele voor, ’n voorsprong wat teen halftyd tot nege doele vergroot is.  Met ’n telling van 10:18 toe die laaste kwart aanbreek, was die skrif reeds teen die muur, maar puik verdediging deur Carmia Cloete (V) lei daartoe dat Oranje se aanvalle suksesvol afgeweer word:  die Vrystaters teken slegs ’n verdere twee doele aan en heelwat Oranje-afgooie word gedraai en vir die doelspelers gevoer.  Kara Barnard (D) en Danica Fourie (HD) kon ten spyte van sterk wind daarin slaag om vyf doele in hierdie kwart aan te teken.

Al was dit nie genoeg om die agterstand in te haal nie, eindig die Stellenbossers steeds saam met Eunice, Oranje en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria onder die top vier netbalspanne en dring outomaties tot die halfeindrondes deur.

In ’n moeilike wedstryd teen Eunice slaag die Bloemhoffers tog om ’n oorwinning van 22:20 in te palm en ontmoet wéér vir Oranje in wat ’n besonderse netbalfinaal was.  In die eerste kwart oorheers Bloemhof en sorg vir ’n voorsprong van ses doele, maar teen halftyd is die telling 15 elk.

Die laaste kwart is ’n epsiese wedstryd in eie reg, met die telling wat 23:23, 24:24 dan 25:25 word voordat Oranje wegtrek en uiteindelik met 25:32 die goue medalje verower en vir Bloemhof die toernooi se naaswenners in netbal maak.   

Nina Pretorius (kaptein, regs op die foto) word aangewys as die fees se beste verdedigende netbalspeler en Zàn-Mari Röth (onder-kaptein, links op die foto) as die fees se beste aanvallende speler.

Zàn-Mari Röth en Nina Pretorius is onderskeidelik aangewys as die fees se beste aanvallende – en verdedigende netbalspeler

 

Die netbaluitslae is as volg:


TENNIS

Op die tennisbaan vaar die Bloemhofspan puik.  Die span – Corin de Waal (gr. 12), Janneke Turck (gr.12), Jeanné Roothman (gr. 12), Ingrid le Roux (gr. 11) en Lenka Steenkamp (gr. 9) – bestaan uit spelers van die o.19A-, o.19B- en o.15A-spanne en het om die beurt aan vier enkels en twee dubbels per wedstryd deelgeneem.

Lenka Steenkamp, Ingrid le Roux, Janneke Turck, Corin de Waal en Jeanné Roothman

In die uitspeelwedstryde wen hierdie span sonder om een punt aan hul teenstanders af te staan en klop vir Eunice 5:1 in die kwarteindronde.  Rhenish word in die semi-finale se enkels 4:0 geklop wat beteken dat dubbels nie gespeel hoef te word nie.

Die uitdagendste wedstryde van die toernooi was die finaal teen Oranje, maar ook hier maak die Bloemhof-tennisspan skoonskip en wen 4:0 en word as die toernooi se tenniskampioene gekroon.

Corin de Waal (foto onder) word aangewys as die toernooi se beste tennisspeler. 

Corin de Waal in aksie tydens die eerste dag van die All Girls’ Festival 2018

Die tennis se wedstryd-uitslae is as volg:

Hier onder volg die tennisspelers se individuele uitslae:

Die All Girls’ Festival vind volgende jaar vanaf 1 tot 4 Mei in die Paarl plaas met die HMS Paarl en die HMS La Rochelle wat dit gesamentlik aanbied.