Die Bloemhof Investec o.14A-hokkiespan het die afgelope naweek aan die DF Malan o.14-toernooi deelgeneem en slegs een van hul sewe wedstryde verloor.

Hierdie toernooi, wat jaarliks deur Hoërskool DF Malan aangebied word, het ten doel om spanne die geleentheid te gee om vir die komende seisoen voor te berei.  32 skole speel in vier groepe ‘n totaal van sewe wedstryde elk.  Elke wedstryd is slegs 25 minute lank, maar bied aan afrigters die geleentheid om verskillende spelers in verskillende posisies te laat speel.

Uiteindelik is daar nie ‘n enkele skool wat as die toernooiwenner gekroon word nie, maar die span wat die mees konstruktiewe spel toon, word wel uitgelig.  Vanjaar deel Bloemhof se o.14’s dié toekenning met die dames van Paarl Gimnasium.

“Dit was goed om te sien hoe die dogters ná elke wedstryd oor hul foute besin en met nuwe entoesiasme die volgende wedstryd aanpak.  Dat ons vanjaar hierdie toekenning ontvang het, getuig dat ons harde werk vrugte afwerp en ons sien uit na die amptelike begin van die hokkieseisoen,” meen me. Illse Davids, die span se afrigter en sportbestuurder vir hokkie.

Die eerste amptelike wedstryd van die nuwe hokkieseisoen vind op Staterdag, 21 April 2018 plaas as die Bloemhoffers vir Paarl Gimnasium pak.

Die volledige uitslae is as volg:

  • speel 1:1 gelykop teen Fairmont High School
  • speel 1:1 gelykop teen Somerset College
  • wen Edgemead High School 8:0
  • speel 0:0 gelykop teen HMS Paarl
  • speel 0:0 gelykop teen Hoërskool Stellenberg
  • verloor 0:1 teen Hoërskool DF Malan
  • wen Rhenish Girls’ High School 1:0

Wedstrydopsomming:

  • Aantal wedstryde gespeel: 7
  • Wedstryde gewen:  2
  • Wedstryde gelykop: 4
  • Wedstryde verloor: 1
  • Doele vir Bloemhof:  11
  • Doele teen Bloemhof: 3

Foto’s:  Cala Thiart